Die lewe is donker
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Die lewe is donker, donker ook vir my
Die hartseer het my nommer, hartseer hou verby
Die lewe is donker, die lewe is donker
Die lewe is donker ook vir my

Die pad is opdraand, opdraand ook vir my
Daar’s dorings in my voete, dorings hou verby
Die pad is opdraand, die pad is opdraand
Die pad is opdraand ook vir my

Die lewe is nie ‘n sprokie nie
Die lewe is donker, die lewe is donker
Die lewe is donker ook vir my

Die toekoms is duister, duister ook vir my
Die noodlot fluister, noodlot hou verby
Die toekoms is duister, die toekoms is duister
Die toekoms is duister ook vir my

Die hart is ‘n mynveld, mynveld ook vir my
Waar ek trap is daar trane, trane hou verby
Die hart is ‘n mynveld, die hart is ‘n mynveld

Die hart is ‘n mynveld ook vir my

Die liefde is nie ‘n sprokie nie
Die liefde is donker, die liefde is donker
Die liefde is donker ook vir my

En tog bly ek hoopvol, hoop vir jou en my
Alles sal regkom, alles gaan verby
Alles sal regkom, alles sal regkom
Alles, alles gaan verby

Heimwee
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Saggies daal die aand neer op die berge
Gee my altyd heimwee na jou
Oral waar ek gaan, waar ek ook swerwe
Bly my hart aan joune getrou

Die jare stap al aan, ons liefde word sterker
Wie sou ooit gedink het dit kon?
Jy die vrygesel, ek die ewige swerwer
‘n Volmaan kan ook skyn langs ‘n middernagson

My nagte was so koud en soms so donker
Nou’t ek jou geselskap elke uur
Ons lywe word dalk oud, ons harte jonger
Ek dans dan saam met jou om ‘n vreugdesvuur

Saggies daal die aand neer op die berge
Gee my altyd heimwee na jou
Oral waar ek gaan, waar ek ook swerwe
Bly my hart aan joune getrou

Is ek happy?
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Ek het als wat ‘n mens ooit kan begeer
‘n Kar en ‘n huis en ek het studeer
My lyf is gesond, vol lewenskrag
En ek slaap soos ‘n baba elke nag

My familie het my innig lief
Daar’s min dinge wat my regtig grief
Daar’s iets in die bank, ‘n belegging of twee
Ek is selfs op ‘n waglys om af te tree

Ek is happy

Vroeër het ek gedroom van sukses en roem
Daai droom het vervaag soos drome doen
Nou dwaal ek rond in ‘n niemandsland
En ek blaai deur ‘n boek wat my vingers verbrand

Ek is iewers in die helfte van 80 jaar
En die drif van vroeër het genadiglik bedaar
Maar ek stamp nog my kop op dieselfde plek
Ek loop my vas teen ‘n muur sonder ‘n hek

Maar ek is happy

Dit voel of die lewe my vir ewig ontwyk
As ek stoksielalleen oor die afgrond kyk
En ek sien hoe my vreugde verdwyn in die niet
En ek voel hoe die sterre in my oë verskiet

Om my lyk almal so gelukkig en heel
Of speel hulle maar net goed toneel?
Loop jý ook rond met ‘n donker vrag
Wat aand na aand by jou voordeur wag?

Is jy happy?

Jy
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Jy met die wêreld se geheime in jou oë
Jy wat onwrikbaar in die God van Abraham glo
Jou hart loop oor van liefde, jou hand is altyd oop
Maar jou nagte is so eensaam as jy enkelpaaie loop
Kom bly by my vanaand

Jy met die soetste spoorwegkoffie in jou mond
Jy wat weet hoe om te lag, al bloei die wond
Jou huis het baie kamers, maar elkeen is beset
Deur hawelose swerwers en mense wat jy red
Is daar plek vir my vanaand?

Die son is soms so helder, die maan is soms so sag
Daar’s plekkie met ons naam op waar ek vir jou sal wag
Ons kan saamwees elke aand

Liefling
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Liefling, jy is soos die see vir my
Ek baljaar in jou dieptes, jou liefde ‘n stroom
En somtyds wonder ek waar gaan ons heen
Is alles net fiksie? Is jy net ‘n droom?

Maar die glimlag in my hart is eg
As ek by jou lê en dit voel so reg
As ons asems een word, jou hart begin te klop hier binne my
Ek maak my oë toe, en ek sien
Hoe liefde, salig, onverdiend
‘n mens se hart kan binnestroom en altyd daar kan bly

Liefling, jy is soos die lug vir my
Ek sweef op jou vryheid
Jou liefde die maan
Vir altyd sal jou wese in my bly
Twee geesgenote, ons pad saam gebaan

Miempie
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Miempie woon in Bettiesbaai
Van buite lyk haar lewe saai
Miempie werk in die poskantoor
Sy perm haar hare tuis, sy bly langs ‘n tehuis, en sing saans in die koor

Miempie het ‘n groot geheim
Saans agter ‘n gordyn dans Miempie met ‘n Black&Decker boor
En soos haar krulle skud word sy wêreldwyd aanbid deur ‘n internet-gehoor

Jy mag dink sy’s plain, maar sy’s ‘n internet-sensasie met ‘n claim to fame
Stille waters, diepe grond, ons dink ons ken mekaar, maar onder draai die
duiwel rond

Een aand staan die koorleier voor die deur
Miempie is lanklaas by die koor bespeur
Miempie nooi hom in van agter die gordyn
En die boor word toe vervang deur ‘n soete samesang, en die twee is nou aanlyn

Ons oordeel soms so maklik aan wat die oog kan sien
Wie die kat knyp in die donker, doen dit klandestien

Ongekende Wêreld
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Daar was ‘n tyd toe ek nog klein en minderwaardig in die skadus wou verdwyn
My lig was dof, my vuurtjie flou, my kole uitgebrand en elke Maandag blou
Maar ek is terug, en ek erken: Ek is ‘n man van durf en daad, ek het ‘n wil om te
wen

Daar was ‘n plek waar ek kon skuil en vreesbevange vir verwerping sit en huil
Die deur was dig, die ligte af, onwetend, ongemerk het ek myself gestraf
Daai deur is oop en ek is vry om my talente en my liefde aan die lewe te wy

Daar is ‘n diep bevryde glimlag in my oë
Daar is ‘n ongekende wêreld waarin ek glo

Vra jy jouself, en wonder jy of jy jouself van al jou kettings kan bevry
Die toekoms wag, spreek net die woord, en kry die lewenswoema wat aan jou
behoort
Al is jy bang, al wil jy sloer, kies altyd liefde, ware liefde, vir jouself en jou broer

Ons het mekaar
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Ons ken mekaar al jare
Ons vriendskap het geblom
Ons het al gelag dat die trane loop
Ons het al gedans tot die son opkom
Daar is soveel gevare wat oor jou pad kan kom
Ons twee staan op vir mekaar
Die gevare kan maar kom

Ons het ‘n band wat ons bind
Ons het ‘n Hand wat ons lei
En as die lewe donker raak sal dit alles helder maak
Ons het mekaar, ek en jy

Onthou jy toe ons jonk was
Die nagte omgepraat
Ons het vir mekaar geen geheime nie
Jy is al die jare nog my heel beste maat
Ek weet dat as ons oud word ons liefde nog sal blom
Wie weet wat lê vir ons voor?
Die onbekende kan maar kom

Prediker 3
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Daar’s ‘n regte tyd vir elke ding, en alles het sy plek
Om gebore te word en om te sterf, om te plant en uit te trek
Om siek te wees en gesond te raak, om af te breek en te bou
‘n Tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, tyd vir dans en tyd vir rou

Die beste vir ‘n mens is om vrolik te wees
En die goeie te geniet terwyl jy lewe
Die lewe is ‘n wiel en mense is ‘n spieël
Maak die meeste van jouself en hou aan strewe

Daar’s ‘n tyd om goeters weg te gooi en bymekaar te maak
Om iemand te druk en te omhels, en ‘n tyd om dit te staak
Om verlore goed te soek en te vind, en ‘n tyd om te laat gaan
Alles het ‘n plek en ‘n tyd in ons tydelike bestaan

Die beste vir ‘n mens…

Daar’s ‘n tyd om te skeur en vas te werk
Tyd vir liefde en haat
Tyd om oorlog en vrede te maak
Om stil te bly…en te praat

Die beste vir ‘n mens…

Vriende
Woorde en musiek: Emile Minnie
© 2018 Emile Minnie Music

Voel jy soms mismoedig as die lewe druk?
Moet jy noodgedwonge bitter pille sluk?
Kry jou werk jou onder, stres jy dag en nag?
Iewers is ‘n plekkie waar jy nog kan lag

Kuier saam jou vriende
Liefde, lag en samesyn
Die lewe is soms donker, maar die liefde sal jou helder laat skyn
Kuier saam jou vriende
Sit daai koffieketel aan
Die lewe is die beste saam met mense wat jou regtig vrstaan

Is daar ruwe rotse waaroor jy moet kom?
Is jou kind weer in detensie, snuif hy alweer gom?
Is jou lewenspaadjie met duwweltjies besaai?
Iewers is ‘n plek waar jy jou sorge af kan laai

Kuier saam jou vriende…

Is jou nagte eensaam, of is jou hart in rou?
Brand jou lewensvuurtjie sukkelend en flou?
Tel die telefoon op, bel jou beste pel

Vriende is ‘n anker, en eensaamheid is hel

Kuier saam jou vriende…