Super Nova Lirieke

icon1.  Vang my

As die pad voor my lê op ‘n pikswart nag
En die takke skuur soos ‘n ding wat lag
As die maan verdwyn agter Tafelberg
En die donker kom om vir my te terg
As die son se lig my trane brand
En die wind my ruk op ‘n Kaapse strand
As die golwe oor my kop wil breek
En dit voel of die dag hom op my wreek
Vang my as ek val, lig my en jy sal jou vlerke om my vou
Vandag is die dag wat ek opstaan, ja vandag is die dag wat ek opstaan, want jy vang my
As die hartseer oor my wange rol
Want my hart is leeg en my kop is vol
As gedagtes in my draai en draai
Waar stilte was is ‘n groot lawaai
As die toekoms ophou om te wink
En my moed tot in my sole sink
As die wolwe by my deur kom lê
Slaan ek my hande saam en sê
Vang my…
Want jy lei my heen na waters waar rus is
Lê my neer as die vlamme geblus is



icon2.  Fladderhang

Weet jy jy is my beminde? Voel jy my hartklop in jou?
Luister hoe wild waai die winde – my asem word woorde in jou
Roep my naam in die oggendure as die sonlig oor die ooste spoel,
en ek sal ronddans in die son se vuur, jy sal my ritme in die hitte voel
Sê my naam in ‘n see van wolke as jy vlieg tot by die horison,
ek sal die winterwind se stem vertolk en jy sou saampraat as jy maar net kon
Weet jy jou stem is soos water? Branders wat breek op my strand
Hoor jy my lag as jy skater? Sien jy die vuur in my brand?



icon3.  Vryheid

Vry om te wees: net wie ek is
Vry om te sê: als wat op my hart is
Ek is vry om my vlerke nog wyer te sprei
Vry om langs jou op te krul en deur die nag te…
Vryheid is ‘n kamer met ‘n hemelbed van hout
met hemelhoë vensters en sonlig wat soos goud
deur die ruite spoel tot op my – ek word ‘n waternimf
en ek swem deur die venster, reguit na die lig
En ek bou vir jou ‘n huis, ‘n ligkasteel vol reënboë
wat golwend om ons ruis soos die liefde in jou oë
En ek sing van jou en my, van die hartstog en verlange
in die lewens wat ons lei…die lewens wat ons lei
Dankie vir my kamer, dankie vir my huis
Vir my wierook en my waansin, die bloed wat deur my bruis
Ek sê dankie vir my vriende, my mure is nou dig
Dankie vir my hemelbed, dankie vir die Lig



icon4.  Eva

Haar vel is wit, sy’s skitterwit
Haar vel is bruin, sandduinbruin
Haar vel is swart, blink en swart
Haar vel is rooi
Haar stem is sag, soos ‘n blom se lag
Haar stem is stil, sternagstil
Haar stem is hard as sy sing van smart
Haar stem is mooi
Haar naam is Eva, ‘n vrou was ‘n duisend drome in haar dra
‘n Vrou wat liefde gee sonder om te vra – ‘n vrou soos my ma
Haar oë is blou, waterblou
Haar oë is bruin, okerbruin
Haar oë is swart, graniet se swart
Haar oë is mooi
Haar hart is groot, omgeegroot
Haar hart is wyd, hemelwyd
Haar hart is sag, seewiersag
Haar hart is rooi…



icon5.  Ek wonder

Ek wonder of jy wakkerskrik en onbeholpe aan my dink
Ek wonder of jy koffie maak en wonder waarom het ek jou verlaat
Trek jy die swaar gordyne oop en sien my in die straat af loop
Ek wonder of jy wil onthou en watter woorde jy berou
Ons afskeid was so blindelings, so tastend in die donker
Net die gode sal verstaan
En eendag sal die stof gaan lê en sal jy sien jy was my eerste liefde
My teerste liefde
Ek wonder of die silwer maan nog laggend deur jou lewe gaan
Of is jou nagte hard en koud en veg jy net om selfbehoud?
Ek wonder of jou lag weerklink, en of jou oë nog helder blink
Of is jy deesdae stil en stroef, die lyne om jou mond ‘n groef?
Ons liefde was so blindelings, so tastend in die donker
Net die die gode sal verstaan
En eendag sal die son weer skyn en sal jy sien jy was my eerste liefde
My teerste liefde
My seerste liefde
Ek wonder of jy soms…ek wonder, ek weet



icon6.  Die lig wat my laat skyn

My hart is ‘n sonnestelsel, my siel is ‘n son
My lewe is ‘n wentelbaan en seisoene gaan om
My hart is ‘n sterrestelsel, my siel is ‘n ster
My lewe is ‘n supernova, die donker is ver
En ek draai my na die son se lig wat my gesig laat skyn
En ek draai my na die bron se krag wat die donker laat verdwyn
En ek maak my vrede so – die lewe is geen reguit lyn maar
Jy is die, jy’s die lig, die lig jy is die lig wat my laat skyn
My hart is ‘n wilde landskap, my siel is die grond
My lewe is ‘n lente-oggend soos goud in die mond
My hart is ‘n diep rivier, my siel is die see
My lewe is ‘n waterdruppel, die stroom vat my mee



icon7.  Hoe jy my soen

Dis Vrydagaand die week was lank elektriek klanke in die lug
My pelle is by my, ons is valke op ‘n vreemde vlug
Die nag begin te dans, al hoe wilder en wilder
Neonlig begin om ons lywe te skilder
En net voor ek wil aanbeweeg, kom jy in en loop jy verby
Die klub is lekker besig en ek sit hier in my hoekie
En kyk hoe jy die mannetjies draai om jou pinkie
My oë is vasgenael aan jou elke beweging
O wat kan ek doen om jou nader aan my te bring
En net wanneer ek weg wil kyk, draai jy om en kyk jy na my
En ek maak my oë toe, en ek droom hoe jy my soen
Wanneer ek my oë oopmaak is jy nie meer daar nie
Ek kyk verward rond my hart wil nie bedaar nie
Ek stap in alle rigtings, ek hoop en bid om jou te kry
En nes ek om die hoek kom staan jy daar en kyk vir my
En net wanneer ek weg wil draai, gryp jy my en soen jy vir my
En ek maak my oë toe, en ek voel hoe jy my soen
Die res is net ‘n droom, die noodlot het ons saamgebring
En met die eerste lig was ons nag net ‘n herinnering
Jou afskeidssoen was kort, jy het uitgeklim en weggeloop
En om my het die wolke die son van alle lig gestroop
En net wanneer ek jou vergeet, kom jy terug en spook jy by my
En ek maak my oë toe, en onthou hoe jy my soen



icon8.  Rainbow

You give your love, you give it freely
when you shine your light on me
Deep inside, if you could see me
how I float in fantasy
and when you say those sweet things to me
with that voice like caramel
How the flower in me blossoms
what the nightingale can tell…
Your love is like raindrops spiralling down
feeding my soul with its beautiful sound
Your voice is the rainbow that colours my day
you’re making me wild with your wonderful ways
Your skin is the sunshine that feeds my desire
quenching my thirst and fuelling the fire
Your love is my reason for not letting go
Love is the one thing I know



icon9.  Ongebonde

Die liefde is ongebonde, vry van plek en tyd
Die liefde is ongeskonde deur haat en moord en nyd
Die liefde is opgewonde, hoor net hoe sy lag
Maar bowenal is die liefde ‘n tweerigting ding ja
Ek vat jou hand en ek lei jou deur die nag
Deur gevare, gebare na die breek van die dag
En die sonlig spoel soos water, en ek sidder van die prag
En ek weet net die liefde is ‘n tweerigting ding ja
Dit maak nie saak of jy kom of gaan nie
Dit maak geen verskil aan haar nie
Draai jou rug, gee jouself, die liefde bly bestaan
Dit maak nie saak of jy gly of bly nie
Dit maak geen verskil aan my nie
Skoonheid kom, skoonheid gaan, maar die liefde bly bestaan



icon10. Jy was lief vir my

Ons liefde was die sekelmaan, ‘n roos, ‘n blom, ‘n vreugdestraan
Nou’s my nagte koud en leeg, ‘n doodloopstraat in elke steeg
Ons oë was vol verwondering, ‘n wolk, ‘n boom, ‘n kind wat sing
Nou bly ek verslae staan en kyk hoe liefde weg kan gaan
Jy was lief vir my
Ons het saam geëet, saam gelag, saam gebad in die middel van die dag
Nou was ek my bord alleen en kyk hoe huil die sagte reën
Ons het vasgesit, kwaad geraak, dit uitgepraat en vrede gemaak
Nou’s my lewe sonder stry – ek stem altyd saam met my
Jy was lief vir my
Ek was moeg gewag, moeg gepraat, die afstand het te groot geraak
Jy’t my van jou weggestoot, gesê jy sien my nou as dood
Nou loop ek my pad alleen. Is ek spyt? Ja en nee
Die lewe is ‘n harlekyn – liefde is gemeng met pyn
Jy was lief vir my



icon11. Eenling is die mens gebore

Gedig deur I.D. du Plessis
Herdruk met verlof van Dalro © 2010

Eenling is die mens gebore
In die diepste van sy siel
skuil ‘n plek waar, mensverlore,
hy in eensaamheid moet kniel
As kristal en silwer skitter
ligte vonkel in die wyn
raak die vreugde soms verbitter
in die uur van samesyn
In die wilde blom se prag
wat die lente orals sprei
skuil ‘n trooswoord vir ‘n dag
en die weelde is verby
Rykdom weef met sagte hande
om party sy goue draad
Geen bevryding van die bande
waarin eensaamheid ons laat
Middernagtelike ure
Kan die skim ‘n tydjie keer
Spoedig val die brose mure
En ons sien die spookbeeld weer
Eenling is die mens gebore
In die diepste van sy siel
skuil ‘n plek waar, mensverlore,
hy in eensaamheid moet kniel