Charlize
As die lig verdof op jou mooi gesig
As die fokus skuif na die volgende berig
As jy huis toe ry aan die verkeerde kant

Mis jy jou Suiderland?

As almal uiteindelik ‘n stukkie van jou het
As jy die leuen verstaan: “Om’n ster te wees is pret”
Raak dit dan stil en eensaam aan jou kant?

Mis jy jou Suiderland?

Mis jy die reën wat op die Wynland val
Die branders wat dreun in die Oos-Kaap en Natal
Die Vrystaat se stilte, die Hoëveld se dans

Mis jy die Afrikaans?
As die rooi tapyt se rooi verbleik

As die droom van rus en vrede jou ontwyk
Voel jy nogsteeds jou bloed se band?

Mis jy jou Suiderland?

As jy lees van al die drama hier
Hier’s meer aksie as in Mad Max 4
Voel jy die empatie wat brand?
Mis jy jou Suiderland?

Mis jy die reën wat op die Wynland val
Die branders wat dreun in die Oos-Kaap en Natal
Die Vrystaat se stilte, die Hoëveld se dans

Mis jy die Afrikaans?

Die onreg wat hier teen die hemel uitbasuin
Die swaarde wat kruis in Eden se tuin
Die kaarte wat val, die poppe wat dans

Mis jy die Afrikaans?

Stem vir Evita
Stem vir Evita, doyenne van ons volk
In sequins en hakke draai sy die dolk
Uit Vrystaatse vlaktes het sy wyd geblom
Sy dra die Vryheidslig alom
Evita regeer, staatsmanne eer

haar woorde, haar dade, hul kom terug vir meer

“Sit, eet en praat”, Evita se raad
en skep nog bobotie op heter daad
Stem vir Evita, Darling se trots
Bapetikosweti se redding en rots

Saam met Oom Hasie, De Kock en Winnie-Jeanne

Staan ons op en sing ons saam:
Evita regeer, staatsmanne eer

haar woorde, haar dade, hul kom terug vir meer

“Sit, eet en praat”, Evita se raad
en skep nog bobotie op heter daad
Stem vir Evita, heldin van ons land
Sy’s nou ‘n gogo, maar steeds aan die brand
‘n Lewende legende, en agter haar bril
Wink sy vir die Groot Krokodil
Evita regeer, staatsmanne eer

haar woorde, haar dade, hul kom terug vir meer

“Sit, eet en praat”, Evita se raad
en skep nog bobotie op heter daad

Glenda
Glenda, Glenda, jy’s die vrou wat ‘n luislang om haar dye vou
Glenda, Glenda, jy’s die een, jy kry man en muis weer mooi op die been
Op Klub Marrakesh se vloer staan die wêreld stil as jy jou lyfie roer
Buite word daar woes betoog, maar jy lig jou been en spring met ‘n boog

Glenda…

Oupa, Oupa, jy’s die slang wat om Glenda Kemp se magie hang
Oupa, Oupa, jy’s die een, jy kry man en muis weer mooi op die been
Een aand tydens groot jolyt het Oupa haar aan die wang gebyt
Haar lip was seer, haar wang was gaar, en vir Oupa was sy toe sommer naar

Oupa…

Oupa is nou in Engeland, en Glenda bid dat die biesies brand

Gaan lees haar blog, haar hond is dood, maar Glenda preek die Lewende Woord

Ingrid
Ek sit in my seespelonk
Ek hou jou dop uit my seewiertronk
Een nag het ek ingeloop
My hart was koud en sonder hoop
My einde kon jy maklik raai
My lyf in seewier toegedraai
Is ek regtig weg? Die antwoord is: “Nee”
Ek leef vir altyd in die see
Rus en vrede vind ek hier
Ek ry op die rug van ‘n waterdier
My wêreldsmart is toegeseël
En eindelik is my hart weer heel
Die mis kom soggens ingerol
Ek glimlag breed, want my hart is vol
Ek duik af in die silwer see
Die vrede wat my “dood” my gee
My lewe was ‘n bitter stryd
Ek ken die pyn van eensaamheid
Deur mense keer op keer verlaat
Die liefde word oornag die haat
My verse was my woordkasteel
My wonderwêreld van verbeel

Maar een nag het hul my kom soek
Die branders het my naam geroep

Nataniël
Wie is die man wat kaalkop is, wat sy mure wit verf en ‘n fees opdis?
Wie is die man wat stories skryf, wat die wêreld inkleur en die grys verdryf?

Nataniël, Nataniël, jy dokter ons weer reg met ‘n humorpil
Nataniël, Nataniël, jou wysheid maak die windlawaaie stil

Dancing with John, The Hong Kong Kiss, Nataniël Kook, dit kan jy nie mis nie
Oopmond en Rubber, Die Kaalkop Joernaal, Maria, Maria, ken jy die verhaal?

Nataniël, Nataniël, jy dokter ons weer reg met ‘n humorpil
Nataniël, Nataniël, jou wysheid maak die windlawaaie stil

En tussen die lag deur pink ons ‘n traan
vir die lief en die leed van ons brose bestaan
En sak die gordyn, sê ek dankie aan jou
Jou kuns is soos kos wat my siel onderhou

Racheltjie de Beer
Racheltjie de Beer, jy vat my hand
En jy lei my oor die verste rant
En my hart’s in twee gebreek oor jou vanaand
Ons loop hand aan hand, ons roep die dier
Wat weggedwaal het, hy was netnou hier
En soos ons loop, begin die sneeu te val
En as die son verdwyn begin jy sing
Om die welbekende nader te bring
En onbewus loop ons op die dood se wal
Racheltjie de Beer, jy vat my hand
En jy lei my oor die verste rant
En my hart’s in twee gebreek oor jou vanaand
Ons is diep verdwaal, dis bitterkoud
My oë is bang, my hart is benoud
En met haar dapper oë kyk Racheltjie na my
Trek my trui aan, vat my jas
Klim in die dié miershoop, verbeel jou dis ‘n kas
En ek sal die deur wees wat altyd toe sal bly
Racheltjie de Beer, jy vat my hand
En jy lei my oor die verste rant
En my hart’s in twee gebreek oor jou vanaand
En soos jy sterf, begin jy sing

Om die welbekende nader te bring
En doelbewus loop jy op die dood se wal
En toe die engel kom om jou te haal
Was jou stem verkluim, jou lyf was kaal
En soos jy vlieg het die laaste sneeu geval…

Saamstaanliedjie
Woorde en musiek: Emile Minnie

Ons land is ‘n mengelmoes van kleur, bruin en wit, swart en geel
Ons staan as ‘n nasie in ons fleur. Gee my jou hand en kom ons deel
Kom ons maak ons koppe oop en voel hoe ons bure se skoene loop
Kom ons laat ons harte praat. Ek sê jou wat: volg my raad
Hey man, kom staan hier by my, man
Kom ons los al ons klein verskilletjies nou eenkant, ja en
Hey man, als is OK, man
Ons het so baie in gemeen, laat ons nou hande vat, ja
In 1994 was die wêreld stom. Almal wou vlug vir die storm wat kom
Maar Madiba het die gees gelei. Almal gelyk, ons is almal vry
Nou het ons die gulde kans. Sal ons as ‘n nasie saam kan dans?
Nou’s die tyd vir groot jolyt. Ek sê jou wat: Kapityt!
Hey man, kom staan hier by my, man
Kom ons los al ons klein verskilletjies nou eenkant, ja en
Hey man, als is OK, man
Ons het so baie in gemeen, laat ons nou hande vat, ja
Soms is die stormwolke swaar as die donder en blits nie wil bedaar nie
Die petrol styg, die rand val, die kinders huil en die kos is nie gaar nie
Soms wil ‘n mens die handdoek en die eend ingooi
Stap dan na jou buurman om hom uit te nooi…

Saartjie
Wie is die meisie met die sagte stem?
As jy haar hoor, sal jy haar ken?
Wie is die engel met die donker oë
wat in kettings in die straat afloop?

Saartjie, Saartjie

kom speel weer saam met my op Kaapse duine

Saartjie, Saartjie

jy’t jou rus gevind, maar waar is myne?
As jong vrou is sy meegevoer
deur leë beloftes van weelde en roem
Haar wêreld moes sy agterlaat –
uitgestal soos ‘n dier op straat…

WAGTENDE NASIE
Ek wag vir die wekker om my wakker te wroeg
Ek wag vir die rooster om my brood uit te spoeg
Ek wag vir my kind, ek wag vir die trein
En ek sidder vir die groeiende onrus in my brein
Ek wag vir die melkman, ek wag vir my pos
Ek wag in ‘n tou om te betaal vir my kos
Ek wag vir die nuus en ek wag vir die weer
En in my hart kan ek die wrewel nie meer keer nie
Ons wag vir geboorte, ons wag vir die graf
Ons wag vir die oordeel en ons wag vir die straf

En deur dit alles bly ons bewus
dat ons al verder dryf van die ewige rus
Ons wag vir herlewing, ons wag vir die vuur
So staan ons afwagtend na die hemel en tuur
Ons wag vir profete, tekens van bo
So wag ons vir iets om in te glo
Ons is ‘n wagtende nasie

Wolraad Woltemade
Ons skip gaan ten gronde, dit blits en dit donder
Die paniek en die chaos is ‘n ysterhand
Wat klem om my hart, wat my gebede tart,
Ek sien hoe ek sterf in ‘n vreemde land
Is daar ‘n uitkoms, of is dit die einde vir my?
Wolraad Woltemade, jou perd klief deur die water
Jou hande reik uit na my toe
Maar Wolraad Woltemade, ek worstel in die water, ek sink
Jy sien die vrees in my oë
Die lig is ‘n lem wat deur my sny
My asem word rotse binne my
Die las is te swaar, ons trek jou saam
Die half-verdrinktes roep jou naam
Is daar ‘n uitkoms, of is dit die einde vir my?
Wolraad Woltemade, jou perd klief deur die water
Ons hande trek jou ondertoe
En Wolraad Woltemade, jy worstel in die water, jy sink
Ek sien die vrees in jou oë
Die storm is klaar, die golwe bedaar
En stilte hang oor elke hoof
Vir Wolraad en elke man en vrou
Die lewe so gou uitgedoof

Daar was geen uitkoms, dit was die einde vir jou
Wolraad Woltmade, jou perd klief deur die water
En so word jy ons land se held
Maar Wolraad Woltemade, jy tuimel deur die water, jy sink
En daar is lig in jou oë