donker liefde emile minnieDonker liefde (2015)

 

 

 

 

 

 

 

 

  1. Dit is die liefde

Uit die hemel val die druppels saggies om ons neer

Die water word ‘n stroom, dit raak net al hoe meer

Strome vloei saam en word ‘n ruisende rivier

Die water les ons dors, dit is so nodig hier

Dit is die liefde in die hart van ‘n man

wat sy wêreld vernuwe, hom laat uitroep: “Ek kan!”

Dit is die liefde in die hart van ‘n vrou

wat haar lewe weer heelmaak, wat haar weer laat vertrou

Hoor jy die ruising as ons stemme stiller raak?

Dit is die fluister van ons harte wat ontwaak

Die dreuning word ‘n koor van stemme wat weerklink

Ek sien ‘n helder toekoms in jou oë blink

Dit is die liefde in die hart van ‘n man

wat sy wêreld vernuwe, hom laat uitroep: “Ek kan!”

Dit is die liefde in die hart van ‘n vrou

wat haar lewe weer heelmaak, wat haar weer laat vertrou

Die wêreld is stukkend, gebroke, in pyn

Reik uit jou hande en laat jou lig skyn

Dit is die liefde in die hart van ‘n man

wat sy wêreld vernuwe, hom laat uitroep: “Ek kan!”

Dit is die liefde in die hart van ‘n vrou

wat haar lewe weer heelmaak, wat haar weer laat vertrou

Dit is die liefde in die hart van ‘n kind

Wat die sonlig laat deurbreek, wat die donker verblind

Dit is die liefde in die hart van ‘n mens

Wat die lewe weer sin gee – dis wat ek vir jou wens

  1. Nuwe blaadjie

En so het dit gekom dat ek kaalvoet sit en skryf

Oor die doringpad geloop in dié tragiese bedryf

Van ‘n hart wat soek na liefde en in die donker gryp

En so strompel ek die duister in

Ons ontmoeting was so soet, jy was stroop en kremetart

Jou woorde was soos reën op my uitgedorde hart

Maar die soet word weldra bitter en die blydskap word die smart

En gevolglik is die vreugde min, en…

Hoe slaan ek ‘n nuwe blaadjie om?

Hoe maak ek my kop se stemme stom?

Hoe sê ek: “Dis die einde, laat ‘n nuwe liefde blom”?

Hoe slaan ek ‘n nuwe blaadjie om?

Die lente van ons liefde was ‘n lugballon wat sweef

Oor ‘n somerland van sonneblom wat net vir liefde leef

Die herfs se kleur het hartseer in die landskap ingeweef

Die winter is nou koud en leeg, en…

Nou’s ek elke dag afwagtend vir ‘n boodskappie van jou

Wat my terugnooi in jou arms, in jou warmte omvou

En elke nag gaan lê ek: ongenooid en ongetroud

My lewenslig begin verflou, en…

  1. Donker liefde

Op ‘n Vrydag in die somer het ek jou ontmoet

Jou glimlag was innemend, jy’t my met die hand gegroet

Ons het lank gesit en praat oor die lewe en nog wat

Jy was eerlik en so openlik; my hart het vlam gevat

n Dag of vyftien later het jy my gebel

Oorstelp en uit die veld geslaan wou ek jou vertel

Hoe jou stem my knieë lam maak, hoe jou woorde my bekoor

Onwetend hoe jou stilte my eendag sou deurboor

Jy’s my donker liefde; ‘n vlam wat somber skyn

Jy’s my donker liefde; kyk hoe my lig verdwyn

Jou liefde was my dwelm, ek was heeltemal verslaaf

Aan jou woorde, aan jou dade, aan jou hartklop as jy slaap

Ons passie was al dringender, net soos ‘n stoeigeveg

En eendag het jy stil geword, eendag was jy weg

Nou sien ek jou gesig in ‘n vreemde se gelaat

Ek dag ek hoor jou stem, dis net my bure wat daar praat

Ek was al op ‘n “date”; die aandjie was maar flou

Jy is onvervangbaar; ek dink heeltyd aan jou

  1. Jonk bly

Jonk bly Sou ‘n feëprinses my vra wat my grootste wens sou wees

Sou ek reguit vir haar sê, sonder twyfel, sonder vrees

Ek wil deur die lewe gaan met net een mens aan my sy

Daardie mens, geliefde, dit is jy

Sal jy jonk bly saam met my, sal ons huppel in die son?

Sal jy kaalvoet met my dans op ons woonstel se balkon?

Sal jy frisbee met my speel en jou laaste Pringle deel?

Sal jy jonk bly, altyd jonk bly, saam met my

Sal jy gister agterlaat en saam met my ‘n toekoms bou?

Sal jy altyd in jou binneste vir my ‘n plekkie hou?

As die wêreld teen jou draai en vir jou sê jy maak ‘n fout

Sal jy ander se opinie neem met ‘n knippie sout

Eendag het geleef in ‘n land ver van hier

n Eensame ou wewenaar in Langstraat nommer vier

Eendag staan ‘n feëprinses en skitter voor sy bed

Met een wens het daai wewenaar homself gered

  1. Ek dag

Ek dag ek bou my kasteeltjie klaar

Toe stort my kaarthuis inmekaar

Gedink ek leef in prag en praal

Maar eintlik was my lewe maar vaal

Ek dag ek eet nou koningskos

Dit was net krummels wat jy los

Gedink ek dra ‘n keiser se gewaad

Toe loop ek heeltyd sonder ‘n draad

Ek het myself om die bos gelei

Gedink ek is die een, gedink ek is vry

Hoe siende blind kan een mens wees?

Sal tyd dan ooit die wonde genees?

Ek dag ek kook soos Nataniël

Toe’s elke hap ‘n bitter pil

Gedink ek dans soos Nuryev

Maar eintlik was my dansie maar zef

Ek dag ek sweef in ‘n lugballon

Toe val ek af van my balkon

Gedink jy’s smoorverlief op my

Toe kyk jy weg en loop jy verby

  1. Sal jy by my bly?

En Lionel Richie het gejazz en Whitney het ge-“croon”

En Barbra het gesing van ‘n “lazy afternoon”

Die sonlig op die water het ge-eggo in jou oë

Die seuntjie binne my kon sy geluk skaars glo

Dat die een in wie ek sin het ook vir my begeer

Datdie een vir wie ek dankbaar is ook vir my waardeer

En woorde was oorbodig; sinne onvanpas

Elke oomblik was vir ewig, die oomblikke wat was

En sal jy by my bly? Sal liefde voort kan gaan?

Die winkelsentrum aan die gons, ‘n miernes wat lawaai

Ek sit by ons gewone plek, toe kom jy om die draai

En skielik is dit stil: dis net ek en jy

Tortelduiwe koer en ‘n meermin swem verby

Ons praat soos twee beskaafdes; niemand sou kon raai

Dat ons droomverlore wegsink in ‘n liefdeskolk wat draai

Jou lippe teen my ore, jou hande op my lyf

Ons ken die ekstase van ons liefdesparadys

  1. Speletjie

Vroeg-oggend lig spoel in by my deur, ek dink dadelik aan jou

Sal ek jou bel of ‘n email stuur? Ek Whatsapp jou maar gou

Spring deur die stort en spring aan die werk en kyk vir ‘n reply

My telefoon is stil soos die graf…en angs wag om die draai

Die liefde is ‘n speletjie: ek gooi die bal vir jou

En wanneer die bal nie terugkom nie is die speletjie maar flou

Die dag gaan sy gang, soveel om te doen, jou stilte kou en knaag

Is jy te besig? Dink jy aan my? My goeie bui vervaag

Wanneer die son sak is ek ‘n wrak – my selfbeeld op die vloer

Ek eindig op soos ‘n zombie wat net vir ‘n selfoon loer

Elfuur die nag is ek desperaat om te drink van jou fontein

Ek skakel my foon aan, soek jou op en sien jy is aanlyn

My hart in my keel, my palms nat, sit ek die foon maar af

Jy’t dalk ‘n ander liefde gevind. My hart roer in sy graf

  1. Totsiens vir eers

Jy’s die vlam wat brand, jy’s die yskoue stroom

Die fantasie, jy’s die nare droom

Die lem wat sny, jy’s die hand wat verbind

Die liefde maak ons almal blind

Jy’s die wortel wat hang voor die donkie se neus

Die hand wat die grasgroen blare kneus

Ek loop my vas teen dieselfde muur

Die lesse wat ek leer is so duur

Ek sê vir eers totsiens vir jou

Ons paadjies skei, ek gaan by myne hou

Wie weet wat die toekoms gaan bring

Eendag sal ek dalk vir jou sing

Ek voel verlore, dit voel of ek huis toe kom

Ek sit heeltyd op ‘n tikkende bom

Ek lag en ek huil, alles deurmekaar

Wanneer gaan die chaos bedaar?

Jy’s van die adelstand en ek is jou gek

Ek was voor in die koor, nou’s ek op my plek

Hoe het ek ooit tot hier gekom?

Die liefde maak ons almal dom

  1. Ons het nooit

Jare lank was ek alleen

Toe ontmoet ek jou, en skielik was ons een

Ons tyd was kort – wat ‘n avontuur

So baie wat ons saam wou doen in elke geleende uur

Maar ons het nooit kaalvoet in die reën gaan stap nie

Mekaar se rûe gelê en krap nie

Saam gaan stap of saam gekook nie – jy moes altyd gaan

Ons het nooit saam die son sien opkom nie

Die maan oor die kim sien loskom nie

Te gou moes ons weer afskeid neem, en ek het alleen bly staan

Soos swaeltjies wat altyd huiswaarts keer

Het ons harte mekaar gevind, altyd weer en weer

Seisoene draai en tyd stap aan

Van die begin af het ons geweet dat jy eendag sou moes gaan

Nou’s als verby, ek’s weer alleen

Ouer en heelwat wyser kyk ek oor my lewe heen

Wat lê voor? Wie kan raai?

Dalk hoor ek eendag weer jou stem, sien ek jou om die draai

Sal ons dan kaalvoet in die reën gaan stap,

mekaar se ruggies lê en krap?

Saam gaan stap en lekker kook – sal jy by my bly?

Sal ons dan saam die son se strale vang,

die maanlig wat oor Leeukop hang?

Sal jy by my staan deur dik en dun,

vir ewig aan my sy?

Jare lank was ek alleen

Toe ontmoet ek jou

En nou’s ek weer alleen

  1. Bevry jouself

Wanneer laas het jy iets nuuts gedoen, jou gemaksone verlaat?

Jouself verras met ‘n nuwigheid, of ‘n ongewone daad?

Dis tyd om die verlede in ‘n boksie toe te draai

Dankbaar dis verby, laat die hede koning kraai

Eet chocolates vir ontbyt, loop kaalvoet op die gras

Bou ‘n sandkasteel, dra ‘n psychedelic das

Ry ‘n ander roete werk toe, as jy lus voel, hou aan ry

Jy’t elke dag die kans om jouself van jouself te bevry

Elke dag loop ons dieselfde liewe pad

Ons lewens bly dieselfde en ons raak so siek en sat

Vir dieselfde resultate, dag in en dag uit

Die tyd is nou ryp om ‘n nuwe tune te fluit

Soms kom jy in ‘n doodloopstraat

Klop dan aan ‘n deur en vra dan raad

Die antwoord sal na jou toe kom

Jou siel sal weldra blom